Afrikaans

15 Jaar Plesierig

Gewoonlik as ek in Afrikaans skryf is dit oor iets gewigtig. Nie hierdie keer nie. Dink ek.

So twee maande terug was ek heel aangenaam verras toe ‘n gedig wat ek geskryf het derde geplaas het in ‘n ATKV kompetisie. In totaal het byna 5000 mense ingeskryf, so ek het nie regtig gedink dat ek ‘n kans staan nie.

Nog beter as die plasing was die geld wat ek gewen het. Die lewe as vryskud akteur en (soortvan?) skrywer is maar moeilik wat geld aanbetref. Ek het die geld meestal op skuld, petrol en huishoudelike goed spandeer. Tog het ek gevoel dat ek myself moet bederf ook…

Daar was kaartjies beskikbaar vir ‘n Karen Zoid vertoning.

Mense sê dat die boeke wat jy lees as kind en tiener jou die meeste bybly. Dis waar. Ek dink nou nog aan boeke soos Charlotte’s Web, Little Pilgrim’s Progress en Susters van Eva. Maar wat nog ‘n groter effek op my gehad het was die musiek.

In 2001 het daar ‘n nuwe Afrikaanse kunstenaar verskyn. Sy was glad nie soos die ander nie. Hoegenaamd nie. Ek het gehoor hoe my ouma gekla het oor die Karen Zoid wat so tekere gaan. Soos Ouma gepraat het was die prentjie in my kop nogal rof, maar toe sien ek haar op die TV. ‘n Langhaar, blonde vrou wat haar hare in die lug gooi en sing terwyl sy kitaar speel. Sy was alles wat ek nie was nie – vreesloos, uitgesproke en selfs kru. En ek was mal oor haar.

Ek was omtrent 10 jaar oud toe my ma vir my Poles Apart gekoop het. Ek het die CD dag en nag gespeel. “Afrikaners is Plesierig” was my gunsteling liedjie en tot vandag toe ken ek nog al die woorde.

Ek was meestal alleen in my liefde vir Karen. Meeste van die mense in Harrismith het haar nie verstaan nie. Boonop was ek ‘n kind en seker nie eintlik veronderstel om Zoid aanhanger te wees nie. Maar Karen het op ‘n belangrike, donker tyd in my lewe in gekom. My pa se verslawing aan drank en pille het al erger geraak. Daar was baie trauma in my kinderjare. Een van my maniere om daaruit te ontsnap was musiek. Natuurlik was daar baie ander sangers waarna ek geluister het, maar Karen was die enigste Afrikaanse een. Juis daarom het ek ook by haar musiek die meeste aanklank gevind.

In 2006 het Karen na Harrismith toe gekom. Ek was ‘n tiener wat geworstel het met hoeërskool. Ek het baie verskil van my klasmaats. Ek was gay (maar steeds baie diep in die kas) en met die kunste gepla. Ek het eerder Dalene Matthee boeke gelees as om uit te gaan. En steeds was ek alleen in my Zoid liefde.

Die optrede het plaasgevind op my ma se 50ste verjaarsdag. Ons het in die koue op die sportsveld gesit terwyl Karen gesing het. Daar was baie dronk mense en tegniese probleme, maar ek was mal daaroor. Daarna het my ma tot my groot beskaming iemand gaan vra of Karen my CD’s sou teken. Ek onthou net dat ek baie op my senuwees was. Karen was natuurlik so koel soos ‘n komkommer. Sy was verras deur die feit dat ek al haar CD’s gehad het en het aangedring dat iemand in die span vir my iets moet gee. Ek het nou nog my Karen Zoid magneet wat teen my yskas sit. Toe sy klaar my CD’s geteken het, het sy gesê; “Thanks vir die support, bokkie.”

Die tweede keer toe ek haar gesien het was by Verkykerskop. Albei my ouers het hierdie keer saam gekom. Eintlik was dit veronderstel om net ek en my pa te wees, maar ek wou nie alleen saam met hom gaan nie. Ek het toe my ma gedwing om om te maak asof sy onder indruk was dat sy ook gaan. Weereens het sy my nuwe CD’s geteken en was sy verras deur die feit dat ek almal het. My pa kon na die tyd nie uitgepraat raak oor hoe sterk haar stem is nie.

Duh.

Toe ek hierdie keer na die Atterbury Teater toe gegaan het om te kyk was ek alleen. Ek lyk nou baie anders as die seuntjie wat destyds “Afrikaners” gesing het. En tog was ek nog so baie dieselfde. Sy ook. Haar musiek is miskien nie meer so wild soos dit in die begin was nie, maar sy weet nou nog meer as ooit tevore hoe om ‘n gehoor aan die gang te hou. Ek het gelag. Ek het gehuil. Ek het elke liewe liedjie geken. Hierdie keer het ek nie die kans gekry om my CD’s geteken te kry nie, maar ek verstaan dat ‘n mens dit nie na elke vertoning kan doen nie (ek is mos nou self ‘n performer, hoor). Karen het ook vir Linda, ‘n baie jong aanhanger van haar, belowe dat sy na die tyd saam met haar sou kuier. Ek sou veel eerder dat sy dit doen as om saam met ‘n spul simpel grootmense te staan en klets. Buitendien is dit beslis nie my laaste Zoid konsert nie.

Boonop het Karen reeds vir my ‘n leeftyd van herhinderinge gegee. Ek het ‘n sonbril gekoop om soos sy te probeer lyk. Met my een verjaarsdag het my ma vir my ‘n Zoid koek gebak met die kenmerkende “Z”. Haar liedjie “47” was die eerste van ‘n rits kere toe die nommer 47 in my lewe voorgekom het. Dit is nou ‘n tatoeërmerk onder my sleutelbeen. Toe die Media album uitgekom het, het ek so tekere gegaan terwyl “Kaapstad” gespeel het dat ek my asblik stukkend geval het. Op 18 is ek vir die tweede keer in Bloemcare opgeneem na ‘n mislukte selfmoordpoging. Toe ek soos ‘n zombie in die snoepie gestaan het, het “Want As Ek Droom” op die radio gespeel. Op my 21ste verjaarsdag het my ma vir my die Zoid Afrika album gekoop. “As Musiek Begin Speel” het gespeel terwyl ek, my ma, my pa en my ouma deur Golden Gate gery het. My pa en Ouma is intussen oorlede. Ouma het wel later erken dat ek reg was oor Karen en dat sy kan sing.

Ek luister amper elke dag na Karen se musiek. Dis deel van wie ek en soveel ander mense is. En deur haar musiek sê sy wat ek baie keer so graag sou wou sê.

Dankie, Karen

 

“Mense vrek oor die hele land en die res lê op Clifton se strand.” ● “These things that supposedly happen for reasons. I’ve got none at all.” ● “Die katte miaau en die honde blaf en die kinders brand hulle skole af.” ● “He’s the dragon in the station wagon. I’m just tagging along.” ● “Ek wonder of jy sal onthou dat jou woorde aan my klou as jy my insluk sonder om te kou.” ● “Ek is die ‘nee’ in jou vernedering en ek is die ‘leed’ in jou belediging.” ● “Ek ken jou lyf. Ek ken jou taal. Ek ken jou goed. Ek ken jou kaal.” ● “Lewe sonder sensuur. My liefde bly duur.” ● “Wat doen ‘n mens met die anger as jy niemand meer mag haat?” ● “Soms is die lewe ‘n winkelsentrum. It’s just more of the same.” ● “Pleased to meet me. How am I? Can I help me? I must try.” ● “Jy kyk my in die oë terwyl jy als vir lensiesop verruil.” ● “You’ll be Brad and I’ll be Janet. And we’ll pretend we’re in a play.” ● “Closet skeleten. We’ve come to be friends. We meet time and again to wash dirty linen under a pseudonym.” ● “Oh Lord, if it be Your will, maak daai kind ‘n bietjie stil.” ● “I was born to be your lover and not to be you mother.” ● “Hulle kom uit goeie huise uit, but they choose to hate.” ● “As ek staan, staan ek alleen. Ek wil meer as net oorleef. Die einde kom so gou.” ● “Jy noem dit vryheid van spraak. Ek hoor net vryheid van wraak.” ● “Seuntjies word manne en gaan sit dan in ‘n kroeg en lyk moeg.” ● “’n Land van mense, van mense gepraat – die mense wat breek en die mense wat maak.” ● “Jy sê dis ‘n cliché. I love you anyway.” ● “People never learn. How did I become one of them?”

 

“Daar was blomme, daar was bomme en keer op keer het die magiese en die verdomde ons altyd iets geleer. ‘n Wêreld groot. ‘n Wêreld klein. Vol geluk en ook pyn. Bloos of blik. Als verdwyn. Kan jy onthou waar was jy?”

 

Follow me on Instagram

Follow me on Twitter

Advertisements
Standard

One thought on “15 Jaar Plesierig

  1. miems lombard says:

    Ek het haar eks-man ewe ordentlik gaan vra, “Meneer Reyneke, kan Karen dalk asseblief my seun se CD’s teken?” Want ek het geweet jy sou eerder die rugbypale opkou voor jy sou vra. En die hele sportgrond het na bier geruik… ” Rieng-tieng-tieng, wasmasjien…

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s