Afrikaans

‘n Paw Paw Vir Ouma

Om te skryf is seer…

Ek is baie lief vir die kunste, in enige vorm. Ek het my liefde daarvoor te danke aan twee mense. My ma het my van kleins af aangemoedig om in die kunste belang te stel.

Die ander persoon was my Ouma Annetjie…

Ouma het my geleer om twee goed te waardeer wat vandag ‘n groot rol in my lewe speel: boeke en toneelspel. Toe Ouma ‘n tiener was wou sy bitter graag ‘n aktrise geword het. ‘n Man het selfs aangebied om vir haar studies te betaal, maar haar ma het nee gesê en die droom het daar gesterf. Daarom het sy my baie sterk aangemoedig om my droom van akteur wees na te jaag. Sy het selfs my pa, wat huiwerig was, aangespreek en gesê hy moet my toelaat om my droom uit te leef. Sy het in my geglo sonder ‘n oomblik se twyfel. Sy was bankvas agter my. My heel eerste optrede tydens my studies was deur Ouma bygewoon. Dit was ‘n komedie, maar Ouma se oë was vol trane.

Omdat Ouma nie ‘n aktrise kon word nie het sy haarself in die wêreld van fiksie laat verdwyn. Van kleins af onthou ek die boekrak wat propvol boeke in een van die kamers in die groot huis gestaan het. Ek het baie kere daar in gegaan en my verkyk aan al die boeke. Dit was ‘n magiese soort gevoel, asof ek voor duisende wêrelde en mense staan.

Die eerste Afrikaanse roman wat ek gelees het was Susters van Eva deur Dalene Mathee toe ek rondom 13 was. Ouma was bang dat die boek te volwasse vir my sou wees, maar ek was in vervoering. Dalene Mathee het my lewe verander. Die enigste persoon wat miskien meer lief was vir haar werk as ek was Ouma. Fiela se Kind was haar gunsteling storie en al het sy vele kere die boek gelees en die rolprent gekyk het sy steeds elke keer gehuil.

‘n Paar jaar gelede het Ouma by ‘n tweedehandse boekwinkel ‘n roman gekoop. Dit was ‘n Paw Paw vir my Darling deur Jeanne Goosen. Die boek was vir my iets uit ‘n ander wêreld uit. Wie sou nou so briljant wees om die verhaal van die brandarm Afrikaner post-Apartheid deur die oë van ‘n hond te vertel? En sy het nie terug gehou nie. Jeanne het die vermoeë om die byenes wawyd oop te skop en dan nog op die bye te trap ook.

Toe ek laas jaar van die film hoor kon ek nie wag om vir Ouma te vertel nie. Sy was ook baie opgewonde.

Maar die film het te laat uitegkom. Ouma was reeds weg.

Toe ek die lokprent sien was ek eers skepties. ‘n Mens is altyd bang vir die film van ‘n boek waarvoor jy baie lief is. Jy skets immers ‘n prentjie in jou kop van hoe die karakters lyk en klink en jy is bang iemand het dit gaan verander.

Daar was wel twyfel dat ek dit sou gaan kyk nie. Vir ‘n verandering was dit ‘n rolverdeling wat gesoute akteurs en aktrises ingesluit het. Dit lyk vir my asof die Afrikaanse rolprent bedryf uiteindelik  begin besef dat pop sterre wat geen drama opleiding het nou nie eintlik die ding doen nie.

Toe ek by die teater opdaag was ek verras. Eintlik was ek ‘n bietjie ongemaklik. Ek is 24 en ek was verreweg die jongste persoon in die teater. Al die ander mense was minstens oor 40, maar nader aan 60. Waar was al die jonger mense? Besig om te wag vir die volgende mislukte poging van een of ander sanger?

Maar nou ja…

As jy drama geswot het is dit moeilik om iets te kyk sonder om kritiek te lewer. Dis immers wat ek geleer is om te doen. Maar hierdie is nie ‘n resensie nie, daarom gaan ek nou nie die film ontleed nie. Binne die eerste paar minute het ek geweet dat die regte groep mense hierdie film aangepak het. Die karakters was eg en sonder skroom vertolk. Dis immers Suid Afrika se A-lys: Brumilda van Rensburg, Sandra Prinsloo en Deon Lotz (een van my gunstelinge) om ‘n paar te noem. Maar dit was die karakter van Mabelline (Jana Nortier) by wie ek die meeste aanklank gevind het. ‘n Jong Afrikaner wat voel dat sy geen plek in hierdie land het nie en met alle mag en mening vir ‘n beter lewe smag. Sy kon baie maklik net nog ‘n komiese cliché gewees het, maar as jy verby al die snaaksheid kyk sien jy ‘n jong vrou wat tot in haar siel ongelukkig is. Haar ma, Soufie, wat begin knak onder die druk van die lewe is meesterlik vertolk deur Deidré Wolhuter. Natuurlik was daar ook vele skreeusnaakse oomblike danksy Caravan Sally (Lida Botha) en veral die meester kulkunstenaar Tango du Toit (Marcel van Heerden, in wat seker sy beste rol tot dusver was).

Die karakters is wat mense as “zef” of “kommin” sou beskryf, maar ek weet nie of dit die regte terme is nie. Hulle is bloot mense wat deur jare en jare se swaarkry verniel is. Of ons dit nou wil erken of nie, dink ek elke Afrikaner sal op een of ander manier kan identifiseer met hulle. As ek die storie vir myself kon opsom sou dit wees dat die lewe genadeloos en moeilik is, maar dit gaan aan. En jy moet ‘n manier vind om die beste te maak daarvan. Soos Ouma het.

Toe ek na my kar toe loop was my oë vol trane. Want ek het geweet Ouma sou mal gewees het oor die fliek.

Ouma is vandag ses maande terug weg.

Ouma

Follow me on Instagram

Follow me on Twitter

Advertisements
Standard

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s